Mon. Sep 23rd, 2019

MyNamakwaland

Dis lekker op die platteland!

Krag: Hier is wat ons nóú moet doen

4 min read

Nico Jano, president van KOKO.

Deur Nico Jano
Nama Khoi se krag gaan nie meer afgesit word nie, maar nog is dit het einde niet.
Die feit dat die krag nie meer afgeskakel gaan word nie, skakel nog nie die probleem uit nie. Dit gee ons agbares ‘n kans om terug te gaan na die swartbord. Die probleem is net in ‘n mate ‘n bietjie salf aangesmeer totdat die sweer weer oopbars, en hier gee ek hulle ongeveer ses maande van nou af.
Wat ons munisipaliteite kort is ‘n effektiewe regrukplan, hulle spandeer baie tyd aan omkeerstrategieë wat eintlik ‘n vermorsing van tyd, geld en energie is. Die spreekwoordelike kalf is nog in die put, en dit sal nog ure se sweet en beraadslaging kos om dié kalf uit die put te kry.
WAT JY VRYDAG KAN VERWAG
Daar gaan môre (13 Januarie) gebrag word dat Eskom nie die krag gaan afskakel nie, wat ‘n goeie ding is vir Nama Khoi se gemeenskappe in geheel, maar die uitdaging is en sal wees in die nakoming van die ooreenkoms met Eskom, asook die langtermynplan om energie te bespaar en uit die diep put van skuld by Eskom uit te kom. Die vraag is nou: daar is wel ‘n afbetalingsooreenkoms, maar is daar meganismes om die ooreenkoms te onderhou en klokslag na te kom?
Ek sien al hoe die tariewe by Nama Khoi gaan styg, hoewel dit al reeds van die hoogste in die land is. En dan sal ons as die gemeenskap van Nama Khoi en die breë Namakwaland wil weet wat is die inhoud van die ooreenkoms? En asseblief moet ons nie vertel van enige “vertrouliksheidsklousule” in die ooreenkoms nie, die PAJA (Public Administrative Justice Act) maak voorsiening dat inligting aan die publiek beskikbaar gemaak moet word.
Die feit dat die krag amper af gesny is, druis direk in op ons grondwetlike reg, die verskaffing van basiese dienste.
Die gemeenskap moenie toelaat dat Nama Khoi met hul basiese reg tot krag en water pophuis speel nie. Die distriksmunisipaliteit en provinsiale regering moet gedagvaar word om hul deel by te dra, want hulle word deur die Grondwet daartoe verplig. En as julle nie weet hoe nie, ek sal daarmee kan help.

Die gemeenskap moenie toelaat dat Nama Khoi met hul basiese reg tot krag en water pophuis speel nie.

Dit is die logiese ding wat nou gedoen moet word want hul aandag gaan nou weer terug wees by faksievorming en gevegte binne die ANC waar hulle lelik gaan veg vir mense van ander streke om op hul provinsiale bestuur te dien wat geensins belangstel aan die welstand van die mense van Namakwaland nie. Miskien moet die ANC-kamerade nou hul provinsiale leiers dreig deur te sê ons gaan jou of julle alleenlik ondersteun, indien jy/julle ons gaan help met die kragprobleem in Namakwaland.
VOORSTELLE
Derhalwe maak ek ‘n paar voorstelle tot ‘n moontlike energiebesparingsplan wat deur alle munisipaliteite in die streek geïmplimenteer kan word.
1. Doen ‘n energieverbruiksoudit in alle staatsgeboue en groot ondernemings in groot dorpe soos Springbok, Garies, Port Nolloth, Pofadder, Aggeneys, Steinkopft, Calvinia ens.
2. Skakel die geboue se kragverbruik oor van bruin na groenenergie.
3. Ontwikkel onmiddellik ‘n energieplan vir die streek. En as daar een is, implementeer dit.
4. Gee prestasieloon vir groot ondernemings wat oorskakel na groenenergie.
5. Ontwikkel 5MW PV plantasies vir bogenoemde dorpe wat ‘n besparing van tussen 40% en 70% aan konvensionele kragverbruik kan beteken.
6. Hersien die IDP (Integrated Development Plan) van beide munisipaliteite en die distriksmunisipaliteit sodat hul fokus kan wees op energiebesparing en die vestiging van groenenergie, omdat krag ‘n krisis is. Is u bewus hoeveel MIG (Municipal Infrastructure Grant)-fondse stuur sekere munisipaliteite onder ANC-beheer elke jaar terug aan die provinsiale tesourie? Miljoene der miljoene. Dis om van te sidder, en die NDM het groot skuld hieraan deurdat hulle nie hul ondersteuningsrol in meeste gevalle nakom nie.
7. Installeer op energie doeltreffende produkte in alle subsidiehuise in die streek

Dit is alles haalbaar en kan gedoen word maar dan moet ons nou begin. ‘n Tekort aan krag jaag beleggers uit ‘n dorp. Toerisme kan nadelig geraak word. Maar die belangrikste van alles is die mense lei daaronder.
OPENBARE VERGADERING
Kom maak ook deel uit van ons eerste vergadering Sondag in Concordia, en ek gaan in die wolke wees as die wit gemeenskap van Springbok ook die vergadering gaan bywoon, want die kragprobleem is ‘n gemene deler wat ons almal raak. As al die goed nie help nie, dan is my laaste voorstel: stem reg as die herverkiesing in Namakwaland gedoen word (en dit gaan kom).
Bel môre en vra vrae asseblief.

Jano is president van KOKO. 

  • Stuur meningstukke aan info@mynamakwaland.co.za vir publikasie.

1 thought on “Krag: Hier is wat ons nóú moet doen

Comments are closed.

Kopiereg © MyNamakwaland | Alle regte voorbehou | Newsphere by AF themes.